Plaas die Algemene Sinode van 2011 onder die Kerklike Tug!
1. Klag: Dat die betrokke leraars van die NG Kerk hulle legitimasie belofte verbreek het.
“Ek, … (naam)… verklaar hiermee in alle opregtheid voor die Here dat ek van harte glo dat al die artikels en stukke van die leer vervat in die Belydenisskrifte en Formuliere van Eenheid …. ooreenkom met die Woord van God. Ek belowe om die voornoemde leer ywerig en volhardend te leer en in my wandel getrou te handhaaf, sonder om iets teen die leer, hetsy regstreeks en onregstreeks, te leer of te skrywe . . . so verwerp ek alle dwalinge wat teen hierdie leer stry, en beloof ek om dit te weerlê, teë te spreek en alles in my vermoë te doen om dit uit die Kerk te weer …”
Hierdie leraars het dus onder eed voor God en die gemeente verklaar, dat hulle alles in hulle vermoë sal doen om dwalinge wat met die Bybel en belydenisskrifte in stryd is te weerlê, daarteen te stry, en uit die kerk te weer, en hulle is op grond van hierdie eed as ampsdraers van die NG Kerk aangestel. Verwerping van hierdie eed sou dus beteken dat hulle nie verder ampsdraers in diens van die NG Kerk kan wees nie.
2. Volgens artikel 61 van die Kerkorde is enige sonde wat indruis teen die Woord van God en die belydenis van die kerk tugwaardig
3. Op 12/10/2011 het die Algemene Sinode die volgende besluit geneem: Die aanhaling is uit die agenda van die sinode, dit is op die datum net so deur die sinode bekragtig.
14.7: Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.
4. Die afleiding is dat die sinode doelbewus ruimte in die kerk skep vir leraars (soos dr Ben du Toit) wat die bestaan van die duiwel ontken.
5. Dr Ben du Toit van die Wes en Suid Kaapse Sinode word op 12/10/2011 in BEELD aangehaal as volg:
“Daarteenoor het dr. Ben du Toit van die Wes- en Suid-Kaapse sinode gesê hy glo nie in die bestaan van die duiwel nie. Hy aanvaar die bestaan van die bose en die verlossing van Jesus Christus egter absoluut.
Hy het gepleit dat daar ook vir mense soos hy ruimte geskep sal word.”
6. Om die bestaan van die duiwel te ontken is godslasterlik om die volgende redes:
a. Jesus het aan sy dissipels vertel dat die duiwel met hom in gesprek in die woestyn gegaan het. Dit is opgeteken in die Woord van God in die drie sinoptiese Evangelies.
b. Jesus beskryf die duiwel as ‘n leuenaar en ‘n moordenaar:
Joh 8:44: Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ‘n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen.
c. Indien die duiwel nie sou bestaan nie beteken dit dat Jesus of ‘n leuenaar is of geestelik versteurd is. Sy ontmoeting in met die duiwel was dus bloot ‘n hallusinasie.
d. Aangesien ons bely dat Jesus God is, is dit godslasterlik in die ergste graad.
7. Om die bestaan van die duiwel te ontken is ‘n direkte aanslag op die geloofwaardigheid van die Bybel, aangesien die Bybel van die boek Genesis tot Openbaring getuig dat die duiwel ‘n persoon is.
Op 20:2 Hy het die draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan is, gegryp en hom vir duisend jaar vasgebind.
8. Om die bestaan van die duiwel te ontken is ‘n verwerping van die geloofsbelydenisse waarop ons kerk gebou is. Verwys asseblief na uittreksels van die Heidelbergse Kategismus en die Nederlandse Geloofsbelydenis hieronder.
9. Om “ruimte te skep” vir godslasteraars wie die bestaan van die duiwel ontken is om doelbewus dwaalleraars in die kerk in te nooi en te bemagtig, en is dus sonde. Dit is ook ‘n blatante verbreking van die legitimasie belofte wat elkeen van die betrokke leraars afgelê het om teen enige dwaallering wat die Bybel en ons belydenisskrifte weerspreek te stry.
10. Hierdie sonde is in die openbaar gepleeg, en skep reeds sensasie landwyd. Dit val dus in die kategorie “Sondes wat openbare aanstoot gee.” (Dit is ook waarom hierdie e-pos so wyd versprei word)
11. Hierdie aksie vernietig die NG Kerk se geloofwaardigheid teenoor sy eie lidmate en die res van die wêreldwye liggaam van Christus.
Doel van hierdie aansoek
Die doel van die kerklike tug in die algemeen en hierdie tugaansoek in besonder is nie om individue verdag te maak, te vervolg of ‘n heksejag teen hulle te voer nie. Dit is ook nie die doel om onenigheid in die liggaam van Christus te saai nie. Daar sal diegene wees wat dit beweer, ek wil hulle graag by voorbaat antwoord.
Die doel is tweeledig.
1. Om die Evangelie van God se ongelooflike liefde en genade aan die leraars te verkondig wat as gevolg van hulle sonde in dwaalleer verval het. Dit blyk dat die onderliggende filosofie agter die verwerping van die bestaan van die duiwel panenteïsme is, soos ek verduidelik by hierdie artikel. Die waarheid is, ons weet almal instinktief ons is nie god nie. Ons weet dat God se wil nie aan ons wil onderwerp is nie. Die goeie nuus is dat, omdat God ons onvoorwaardelik liefhet en omdat Hy sy Seun vir ons aan die kruis laat spyker het, ons nie nodig het om te probeer om self god te wees nie! Sy genade maak ons vry – ook van ons eie godswaan! Ek wil hierdie dwaalleraars smeek om tot bekering te kom, God se genade te aanvaar en sy onuitspreeklike vrede en vreugde te ervaar!
2. Die dwaalleer dat die duiwel nie bestaan nie is godslasterlik, destruktief en vernietig geloof. As Jesus ‘n mal leuenaar was soos hierdie dwaalleraars by implikasie beweer, waarom kom ons dan nog kerk toe? Hoe kan ek dan glo dat Hy vir my sondes gesterf het? God beveel ons om dwaalleraars uit die kerk te ban, omdat hulle sonde sal lei tot die ewige verdoemenis van baie mense . Ek het die lidmate van die NG Kerk te lief om stil te bly.
Indien u sou besluit om nie die betrokke leraars te tugtig nie verwag ek van elke ring ‘n skriftelike verduideliking waarom nie, soos wat dit in die kerkorde van die NG Kerk beveel word.
U kan my kontak by
1. hierstaanek@imaginet.co.za
2. www.hierstaanek.com
Groete
Wynand Louw
Additional information: Lifestyle C is based in Pretoria (Gauteng), South Africa - We can accommodate any client(s) for requested lifestyle sessions at a venue that is convenient for both parties. You can contact Danie Strydom for professional life coaching and alignment.
[ Back to top ]



